Die wind het geloei, weerlig het geblits, die branders het gemaal en ek het gedink ek gaan sterf. Ek en my oupa en ouma het gaan visvang, maar te lank op die meer getalm. Met sonsondergang het ’n vinnige reënwindbui ons bootjie ingehaal. Oupa het my beveel om aan die voorkant te gaan sit sodat dit nie omslaan nie. Angs het my hart vasgegryp, maar toe het ek begin bid. Ek was veertien.

Ek het gevra dat God ons gerus sal stel en bewaar. Die storm het nie bedaar nie, maar ons het die oewer gehaal. Tot vandag toe weet ek dat ek nog geen groter sekerheid van God se teenwoordigheid ervaar het nie as daardie nag in die storm.

Jesus het eerstehandse ervaring van storms gehad. In Markus 4:35-41 word vertel dat Hy Sy dissipels aangesê het om na die oorkant te vaar van ’n meer wat spoedig stormagtig sou word. Die storm het die geharde vissermanne daardie nag getoets en gelouter. Hulle het ook gedink hulle gaan sterf. Maar Jesus het die see laat bedaar en Sy dissipels se geloof versterk.

Jesus nooi ook vir ons om tydens ons storms op Hom te vertrou. Soms laat bedaar Hy die wind en die branders op bonatuurlike wyses. Hy laat ons hartklop bedaar en help ons om op Hom te vertrou. Hy vra dat ons sal rus in die vaste wete dat Hy oor die krag beskik om die branders te beveel: “Hou op! Bedaar!”