In Lewis Carroll se klassieke verhaal: Alice in Wonderland, vra Alice: “Hoe lank is vir altyd?” Die Wit Haas antwoord: “Soms net ’n sekonde lank.”

Vir altyd … dis hoe dit gevoel het toe my broer David skielik oorlede is. Die dae voor sy gedenkdiens het sleepvoet verloop en ons gevoel van verlies en hartseer verskerp. Dit het gevoel asof elke sekonde ’n ewigheid duur.

Koning Dawid het hierdie sentiment gedeel: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?” (Ps. 13:2-3). In slegs twee verse vra hy vier keer: “Hoe lank … nog?” Soms voel dit asof die pyn van die lewe nooit gaan ophou nie.

Dan tree ons hemelse Vader ons smart binne met Sy teenwoordigheid en sorg. Nes koning Dawid kan ons na Hom toe gaan met ons pyn en verlies en wéét dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie (Heb. 13:5). Die psalmis het dit ook uitgevind en sy klaaglied het van ’n verdrietige mineurtoon in ’n triomfantelike verklaring verander: “Ek hou vas aan u getroue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart …” (Ps. 13:5).

Sy troue liefde sal ons dra deur die tye wat dit vir ons voel asof swaarkry vir altyd sal duur. Ons kan ons oor Sy redding verbly.