Ek en my seuns het ’n week op ’n verlate plattelandse beesplaas aan die Salmonrivier – Idaho se “Rivier van geen terugkeer nie” – deurgebring.
Terwyl ek op ’n dag die plaas verken, het ek op ’n antieke graf wat met ’n stuk hout gemerk is, afgekom. As daar ’n inskripsie op die hout was, het die weer dit lankal uitgewis. Iemand het gelewe en gesterf, en is nou vergete. Tuis het ek etlike ure lank oor die geskiedenis van die ou plaas en die omgewing gelees, maar kon geen inligting kry oor die persoon wat daar begrawe is nie.
Daar word beweer dat die beste onder ons vir ’n eeu of so onthou word. Die res van ons is gou vergete. Die herinneringe aan vorige geslagte, soos ons merkers, verdof gou. Tog is ons erfenis deur God se huisgesin voortgedra. Hoe ons God en ander tydens ons lewe liefgehad het, lewe voort. Maleagi 3:16-17 vertel ons: “Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. Hulle sal vir My ’n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.”
Paulus skryf: “… volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het” (Hand. 13:36). Mag ons, soos Dawid, die Here in ons geslag liefhê en dien, en die herinnering aan Hom oorlaat. Hulle sal Myne wees (vgl. vs. 17).