“God het jou vanaand na my toe gestuur!”
Dít was die afskeidswoorde van die vrou voor my toe ons die vliegtuig na Chicago verlaat het. Sy het aan die oorkant van die paadjie gesit en my vertel dat sy op pad huis toe was ná ’n heen-en-terug reis daardie dag. “Gee jy om as ek jou vra waarom jy so gou terugkeer huis toe?” het ek gevra. Sy het afgekyk: “Ek het my dogter vandag in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem vir dwelmmisbruik.”
Ek het haar op ’n teer manier vertel van my seun se stryd teen heroïenverslawing en hoe Jesus hom bevry het. Terwyl sy geluister het, het sy deur haar trane geglimlag. Nadat die vliegtuig geland het, het ons eers saamgebid en God gevra om haar dogter se kettings te breek.
Later daardie aand het ek aan Paulus se woorde in 2 Korintiërs 1:3-4 gedink: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee … Daarom kan ons ook ander bemoedig … met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig …”
Daar is oral mense rondom ons wat aangemoedig moet word met die bemoediging wat slegs God kan gee. Hy vra dat ons met teer harte en medelye sal uitreik om die liefde wat Hy aan ons bewys het, met hulle te deel. Mag God ons vandag uitstuur na dié wat Sy bemoediging nodig het!