Met ’n geneigdheid tot pessimisme kan ek gou tot negatiewe gevolgtrekkings kom oor hoe my lewe gaan uitdraai. As ’n projek by die werk faal, is ek oortuig dat geen van my pogings ooit suksesvol sal wees nie – en selfs totaal buite verband – dat ek ook nooit my tone gemaklik sal kan raak nie. En, o wee, ek is ’n aaklige ma wat niks reg kan doen nie. Een neerlaag raak onnodiglik baie areas in my lewe.

Ek kan my maklik indink hoe die profeet Habakuk kon reageer op wat God aan hom geopenbaar het. Hy het rede vir wanhoop gehad na hy die naderende probleme van God se volk gesien het; lang en moeisame jare het voorgelê. Dinge het maar duister gelyk: geen vrugte, geen vleis, en geen aardse gemak nie. Sy woorde lok my in ’n pessimistiese staat van hopeloosheid, tot hy my wakkerskok met ’n sewe-letterwoord: nogtans. “Nogtans sal ek in die Here jubel …” (Habakuk 3:18). Ten spyte van al die ontberings wat hy verwag het, het Habakuk rede gevind om te juig, bloot oor wie God is.

Terwyl ons geneig is om ons probleme te oordryf, het Habakuk werklik uiterste probleme trotseer. As hy God kon prys in sulke omstandighede, kan ons dalk ook. Wanneer ons vasval in diepe wanhoop, kan ons na God opkyk wat ons uitlig.