Sy naam was Dawid, maar vir die meeste was hy maar net “die straat violis.” Dawid was ’n slordige ouer man, wat maar altyd daar was in gewilde gebiede in ons stad. Hy het verbygangers vermaak met sy besondere bedrewenheid met sy viool. In ruil daarvoor sou luisteraars soms ’n munt in die oop vioolkas gooi. Dawid sou glimlag en hulle met ’n kopknik bedank terwyl hy verder speel.

Toe hy onlangs oorlede is en sy doodsberig in die koerant verskyn, het dit bekend geword dat hy verskeie tale magtig was, aan ’n universiteit van aansien gegradueer het, en selfs jare terug vir die senaat gestaan het. Sommige was verbaas oor die omvang van sy prestasies, omdat hy net op sy voorkoms getakseer is.

Die Skrif leer ons dat “as beeld van God het Hy die mens geskep” (Genesis 1:27). Dit dui op ’n inherente waarde binne elkeen van ons, afgesien van hoe ons lyk, wat ons bereik het, of wat ander van ons dink. Al sou ons verkies om weg te draai van God in ons sondigheid, het God ons so hoog geag dat hy Sy enigste Seun gestuur het om ons die weg na redding en ewigheid by Hom te wys.

God het ons lief en rondom ons is almal diegene wat vir Hom kosbaar is . Laat ons ons liefde vir Hom wys deur Sy liefde met ander te deel.