My twee kinders het gestry en mekaar oor en weer beskuldig toe hulle hulle saak voor my kom stel. Ek het hulle elkeen afsonderlik aangehoor en gevind dat altwee eintlik ewe skuldig is. Aan die einde van ons gesprekke het ek elkeen gevra wat hulle dink ’n gepaste maar regverdige straf vir die ander een sou wees. Albei het summier ’n straf vir die ander voorgestel. Tot hul verbasing herlei ek toe elkeen se voorgestelde straf terug na die voorsteller. Skielik het elkeen oor die onregverdigheid van die straf begin kla, noudat die voorgestelde straf na hulself geboemerang het, ongeag die feit dat dit geskik was toe dit vir die ander een bedoel was.
My kinders het die soort “oordeel sonder genade” waarteen God in Jakobus 2:13 waarsku, getoon. Jakobus herinner ons daaraan dat God begeer dat ons eerder ons naaste moet liefhê soos onsself (vs. 8) in plaas daarvan om ander vir selfsugtige eie gewin te gebruik of om diegene deur wie ons geen voordeel kan trek nie, te ignoreer. Hy beveel ons om op te tree soos mense wat weet hoeveel daar aan ons deur genadige vergifnis gegee is en om met dieselfde genade na ander uit te reik.
God het oorvloedig van Sy genade gegee. Laat ons daarom in al ons handelinge en interaksie met ander, God se genade oor ons onthou en dit ook aan ander bied.