As kind het ek altyd uitgesien na ons kerk se opwindende Sondagaand-dienste, omdat daar dan dikwels sendelinge en ander gassprekers opgetree het. Hulle boodskappe het my baie geïnspireer omdat dit altyd getuig het van hulle bereidwilligheid om vriende, familie, aardse besittings en selfs loopbane op te offer om God in vreemde, onbekende en soms gevaarlike plekke te gaan dien.
Soos hierdie sendelinge moes Elisa ook baie opoffer om God te volg (vs. 19-21). Voordat God hom deur die profeet Elia tot diens geroep het, was hy ’n boer en was hy juis besig om te ploeg toe Elia hom gekry het en Elia sy mantel, as simbool van sy rol as profeet, oor hom gegooi het. Elisa het alles net so gelos en met Elia se toestemming sy ouers gaan groet. Hy het toe twee osse geslag en gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en hom gevolg.
Alhoewel nie baie van ons geroep word om familie en vriende agter te laat en Hom as voltydse sendeling te volg nie, vra God tog dat ons Hom sal volg en om “in die omstandighede te bly wat die Here vir [ons] gegee het … toe God [ons] geroep het” (1 Kor. 7:17). Ek het dikwels gevind dat dit baie opwindend en uitdagend kan wees om God te dien, waar ons ons ookal mag bevind, selfs al verlaat ons nooit ons tuiste nie.