“Die tyd vlieg wanneer ’n mens iets geniet.” Daar is geen basis vir hiérdie afgesaagde mening nie, tog ondersteun ’n mens se waarneming dit.
Die tyd verloop glad te vinnig wanneer ons plesier beleef. Gee my ’n taak wat ek geniet, of ’n persoon by wie ek graag kuier, en tyd raak heel irrelevant.
My ondervinding van hierdie “realiteit” het my nuwe begrip gegee vir die toneel wat in Openbaring 4 beskryf word. In die verlede sou ek nadink oor die vier lewende wesens wat rondom God se troon oor en oor dieselfde woorde sê. Watter vervelige bestaan! het die gedagte dan by my opgekom.
Ek dink nie meer so nie. Ek dink aan wat hulle alles met hul baie oë (vs. 8) kan sien. Ek dink aan die uitsig wat hulle het vanuit hul posisie rondom God se troon (vs. 6). Ek dink aan hul verbasing oor God se wyse en liefdevolle betrokkenheid by wederstrewige wêreldlinge. En dan dink ek: Kan daar enigsins ’n ander reaksie wees? Wat anders kan ’n mens sê as: “Heilig, heilig, heilig”?
Is dit vervelig om dieselfde woorde te herhaal? Nie wanneer jy in die teenwoordigheid van jou geliefde is nie! Nie as jy presies doen waarvoor jy bestem is nie!
Ons – nes die vier wesens – is geskep om God te verheerlik. Wanneer ons ons aandag op Hom toespits en arbei om ons doel te vervul, sal ons lewens nooit vervelig wees nie.