Ek en ’n vriend het onlangs die Empire State-gebou besoek. Die tou het kort gelyk – verby die blok en om die draai. Toe ons egter die gebou binnegaan, het ons ontdek dat die ry deur die ontvangslokaal, teen die trappe op tot in ’n ander vertrek strek. ’n Verdere afstand het om elke nuwe draai geskuil.

Vermaaklikheidsplekke en temaparke bepaal die roetes versigtig sodat die rye korter lyk. Tog kan teleurstelling “net om die draai” opduik.

Die teleurstellings wat ons in die lewe ervaar, is dikwels baie ingrypender. ’n Nuwe werk realiseer nie. Vriende op wie ons vertrou het, laat ons in die steek. Die romanse waarna ons uitgesien het, werk nie uit nie. Te midde van hierdie teleurstellings verkondig God se Woord egter ’n verkwikkende waarheid omtrent ons hoop in Hom. Die apostel Paulus het geskryf: “ … swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom. 5:3-5).

Met ons hoop in Hom, fluister God deur Sy Heilige Gees die waarheid dat Hy ons onvoorwaardelik liefhet en dat ons eendag by Hom sal wees – ongeag énige struikelblok! Die wêreld stel ons dikwels teleur, maar dit is goed om te weet dat God ons ware hoop gee.