As jy vandag ’n lekkergoedkierie geniet, sê “danke schön” aan die Duitsers, want daardie lekkergoed was heel eerste in Keulen gemaak. As jy ’n poinsettia bewonder, sê “gracias” aan Meksiko, waar die plant vandaan kom. Sê “merci beaucoup” aan die Franse vir die woordjie noel (Kersfees), en roep “Hoera!” vir die Engelse vir jou mistel.

Wanneer ons ons tradisies en feestelikhede van die Kersgety geniet – gebruike wat versamel is vanoor die hele wêreld – laat ons ons mees opregte en innige “dankie” bêre vir ons goeie, genadige en liefdevolle God. Van Hom kom die rede vir ons Kersvieringe: die baba gebore in daardie Judese krip meer as 2,000 jaar gelede. ’n Engel het die koms van hierdie geskenk aan die mensdom aangekondig met die woorde: “ … ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap … die Verlosser [is] vir julle gebore” (Lukas 2: 10-11).

Hierdie Kersfees, selfs in die lig van die skitterende Kersboom en omring deur nuut oopgemaakte geskenke, kom die ware opgewondenheid wanneer ons ons aandag skenk aan die baba genaamd Jesus, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matteus 1:21). Sy geboorte oortref tradisie: dit is die middelpunt van ons fokus wanneer ons lofsange na God opstuur vir hierdie onbeskryflike Kersgeskenk.