Reginald Fessenden het lank gewerk om koordlose kommunikasie te vervolmaak. Ander wetenskaplikes het sy idees radikaal en onortodoks gevind en getwyfel of hy ooit sukses sal bereik. Hy beweer dat hy op 24 Desember 1906 die eerste persoon was wat ooit musiek oor die radio gespeel het. Fessenden het ’n kontrak met ’n maatskappy gehad wat koordlose stelsels op ongeveer ’n dosyn bote geïnstalleer het vir kommunikasie oor die oes en bemarking van piesangs. Daardie Oukersaand het Fessenden die operateurs aangesê om te luister. Om 21:00 het hulle sy stem gehoor.

Hy het ’n plaat gespeel van ’n aria, sy viool uitgehaal, “O Holy Night” gespeel en die woorde van die laaste vers saamgesing. Hy het Kerswense oorgedra en die verhaal van die engele wat die geboorte van die Redder aankondig, uit Lukas 2 voorgelees.

Die skaapwagters in Bethlehem meer as tweeduisend jaar gelede sowel as die matrose op die bote van die United Fruit Company in 1906, het in ’n donker nag ’n onverwagse, verrassende boodskap van hoop gehoor. God gee vandag steeds daardie selfde boodskap van hoop aan ons. ’n Redder is vir ons gebore – Christus die Here! (Luk. 2:11). Ons kan saamsing met die koor van engele en gelowiges deur die eeue: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”. (vs. 14).