Eendag het ek dit baie geniet om op die strand te staan en kyk hoe seilplankryers wat deur die krag van die wind voortgedryf was, oor die water bons. By navraag het een van die deelnemers my verseker dat hierdie manier van branderry, waar die wind ingespan word om die werk te doen, baie makliker as gewone branderplankry is.
Soos wat ek verder op die strand gestap het en nagedink het oor die wind se vermoë om nie net seilplankryers oor die water te trek nie, maar ook my hare deurmekaar te waai, het ek vir ’n wyle gaan stilstaan om net weer ons God se skepping te bewonder. Ons lees mos in Amos van Hom “wat die berge vorm en die wind skep” en wat “die dagbreek donker maak” (vs. 13).
Deur hierdie profeet het God Sy volk aan Sy mag herinner en hulle na Hom toe teruggeroep. Maar omdat hulle nie na Hom wou luister nie, het Hy gesê dat hy Homself aan hulle gaan openbaar (vs.12). Alhoewel ons Sy oordeel hier waarneem, leer ons ook elders in die Bybel van God se opofferende liefde – Hy het ons, ’n verlore mensdom, so lief gehad dat Hy Sy Seun gestuur om ons te red (Joh. 3:16).
Die krag van die wind op hierdie winderige dag het my maar net weer God se grootheid laat besef. So, as jy vandag die wind teen jou voel, hoekom gaan staan jy nie ’n bietjie stil net om Sy almag te bewonder nie?