’n Polisiehoof is eenkeer gevra hoe hy ’n gemeenskap wat nie altyd saamwerk as dit by wetstoepassing kom nie, hanteer. In antwoord het hy nie sy kenteken uitgeruk of sy rang voorgehou nie, maar stilweg geantwoord dat hulle self net mense is wat met mense in nood werk.
Sy nederigheid en gelykstelling met ander mense het my aan Petrus se woorde laat dink toe hy aan die eerste-eeuse lydende Christene geskryf het: “Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig” (1 Pet. 3:8). Petrus sê dus dat noodlydendes altyd menslik hanteer moet word omdat ons almal tog maar dieselfde is. Trouens, is dit nie wat God gedoen het toe Hy Sy Seun gestuur het nie – om mens te word sodat Hy ons kan help nie? (Fil. 2:7).
Kyk mens egter na jou eie hart sien jy soms jou onmenslikheid of jou ongevoeligheid raak. Maar wat daarvan as jy jou menslikheid as deel van jou geskenk aan die wêreld sien. Jesus leer ons mos om ten volle mens te wees, en om te sien hoe ons as dienaars almal dieselfde is. God het ons as mens geskep, gevorm volgens Sy beeld en verlos deur Sy onvoorwaardelike liefde.
Ons sal verseker vandag mense teëkom wat met verskillende probleme sukkel. Stel jou voor watter verskil dit sal maak as ons nederig optree – gewone mense wat met ander mense in nood saamwerk.