Ons was vir etlike jare die eienaars van ’n Westerse Hoogland Terriër. Hierdie hondjies is besonder taai en word geteel om in ratelgate in te kruip en ratels uit te trek. Alhoewel ons hondjie vir baie jare uit haar oorspronklike habitat verwyder was, het sy steeds haar ingeteelde instink behou. So het sy eendag een of ander dierasietjie onder ’n rots in ons tuin opgemerk en woes agter die klein diertjie aan begin grawe.
Dink nou mooi na oor die volgende vraag: Waarom jaag ons altyd een of ander sukses na? Hoekom moet ons altyd teen die hoogste ongeklimde berg uitklouter, teen hoë vertikale hellings afski, die mees gevaarlike rivierversnellings trotseer, natuurwette uitdaag? ’n Deel daarvan is seker uit begeerte en pure genot, maar ek glo ook dat daar veel meer as net dit is. Eintlik is dit ’n drang na God wat by ons ingeplant is. Ons kan nie nie vir God wil vind nie.
Maar ons weet dit natuurlik nie. Al wat ons weet is dat ons na iets hunker. Mark Twain het eenkeer gesê ons weet nie wat ons wil hê nie, maar ons wil dit so graag hê, ons kan amper sterf.
God is ons hart se ware tuiste. Vader Augustinus het dit gestel dat God ons vir Homself gemaak het en dat ons harte daarom slegs in God sal rus vind.
Wat is die hart? Dit is ’n diep leemte in ons wat slegs God kan vul.