Oswald Chambers het in Oktober 1915 tydens die Eerste Wêreldoorlog by Zeitoun, ’n militêre opleidingssentrum naby Kaïro in Egipte gearriveer. Dit was sy taak om as kapelaan Britse Statebond-soldate te dien. Daar het hy een weeksaand ’n diens gereël en 400 man het die groot saal volgepak om na sy boodskap oor wat die waarde van gebed is, te luister. Later die aand het hy afsonderlik met van die manne wat probeer het om God te midde van die oorlog te vind, gesels. Hy het dikwels Lukas 11:13 aangehaal: “As julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer. Hy sal die heilige Gees gee vir die wat vra.”

Die gratis geskenk van God deur Sy Seun Jesus is vergifnis, hoop en Sy lewende teenwoordigheid in ons lewens deur die Heilige Gees. “Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word” (vs. 10).

Oswald Chambers is skielik op 15 November 1917 a.g.v. ’n gebarste blindederm oorlede. Om hom te vereer, het ’n soldaat wat deur Oswald tot geloof gelei is, ’n graniet gravering van ’n oop Bybel met die boodskap van Lukas 11:3 daarop aangekoop, en dit langs die graf neergesit: “Hy sal die Heilige Gees gee vir die wat vra.”

Hierdie wonderlike geskenk van God, is vandag vir elkeen van ons beskikbaar.