Ons twee-en-twintig maande oue kleindogter, Moriah, het onlangs vir die eerste keer alleen sonder haar twee twee ouer boeties by ons oornag. Ons het haar met baie liefde en aandag oorlaai en baie pret gehad om haar te vermaak. Toe ons haar die volgende oggend by haar huis aflaai en wou groet, het sy dood luiters weer haar oornagtas, wat nog by die voordeur gestaan het, opgeraap, gereed om ons terug te volg.
Ek onthou daardie oggend baie goed. Ek glimlag elke keer as ek dink hoe sy met haar doek en onpaar pantoffels daar gestaan het. Sy was dadelik reg vir meer persoonlike aandag.
Alhoewel ons kleindogter nog nie behoorlik kon praat nie, het sy tog waardering vir ons liefde en omgee gewys. Net so, maar op ’n baie kleiner skaal, vorm ons liefde, soos dié wat ons op Moriah uitgestort het, ’n prentjie van God se liefde vir ons, Sy kinders. In 1 Johannes 3:1 staan daar: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.”
As ons in Jesus as ons Verlosser glo, word ons Sy kinders en begin ons Sy oorvloedige liefde wat Hy aan ons geskenk het deur vir ons sonde te sterf, te verstaan (vs. 16). Ons begeerte word dan om Hom in alles wat ons doen of sê, te behaag (vs. 16) en om Hom lief te hê en tyd saam met Hom deur te bring.