“Pasiënt is veglustig” het die verpleegster se notas gelui.

Wat sy egter op daardie stadium nie besef het nie was, dat my liggaam ’n allergiese reaksie ondergaan het toe ek na ’n groot hartoperasie wakker word. My liggaam het heftig begin bewe en my arms het aan die bande wat moes keer dat ek nie die pype uit my keel trek nie, gepluk. Dit was ’n angswekkende situasie. Op een stadium het ’n assistent-verpleegster egter onverwags afgebuk en saggies my hand geneem. Dit het my gou laat bedaar en my liggaam het ontspan.

Die assistent-verpleegster was voorwaar baie ervare. Sy het reeds by ander pasiënte gesien hoe gerusstellend ’n aanraking kan wees en het geweet dat dit ook vir my sou werk. Dit is ’n duidelike voorbeeld van hoe God bemoediging gebruik wanneer Sy kinders swaarkry.

Bemoediging is ’n kragtige en noodsaaklike stukkie gereedskap in die hand van die versorger. Paulus sê in 2 Kor. 1:3,4 dat dit ook ’n baie belangrike instrument in God se hand is. Maar dit eindig nie daar nie. God vermenigvuldig die impak van Sy bemoediging, wanneer Hy ons roep om ons vorige ervarings van Sy bemoediging met ander in soortgelyke omstandighede te deel (vs. 4 en 5). Dit is maar net nog ’n teken van Sy groot liefde wat ons met ander kan deel – soms selfs in die eenvoudigste gebare.