Dit is soms moeilik om te verstaan hoekom God nie altyd dadelik ons gebede verhoor nie.
Dit was ook die geval met Sagaria, ’n priester aan wie die engel Gabriël eendag verskyn het. Die engel het vir hom gesê dat God sy gebede verhoor het, dat sy vrou Elizabeth ’n seun in die wêreld gaan bring, en dat Sagaria hom Johannes moet noem (Luk. 1:13). Maar Sagaria worstel met die engel se boodskap, want hy het lank gelede al vir ’n kind gevra, maar sonder enige sukses en nou is Elizabeth al ver gevorder in jare.
God se geheue is egter volmaak. Hy vergeet nooit ons gebede nie en kan (en sal) soms lank nadat ons tot Hom gebid het op ons gebede reaggeer. Soms is Sy antwoord “nee”, en ander kere is dit weer “wag”. Maar eending is verseker: Sy reaksie kan altyd gemeet word aan Sy groot liefde vir ons. Sy tydsberekening is altyd goed, al kan ons dit nie altyd verstaan nie.
Sagaria moes dit ook eers so ervaar. Alhoewel hy gevra het vir ’n seun, het God hom baie meer as net dit gegee. Volgens God se beskikking sou sy seun eendag die profeet wees wat die koms van die Messias sou aankondig.
Ons leer ’n baie belangrike waarheid uit Sagaria se ondervinding en ons moet dit altyd onthou as ons bid: God se tydsberekening stem selde met dié van ons ooreen, maar dit is die moeite werd om daarvoor te wag.