Tydens ’n konferensie in Asië het ’n pastoor getuig van sy elf jaar wat hy onskuldig in ’n tronk moes deurbring vir moord. Daar was ook ’n groepie families wat vertel het hoedat hulle ’n fortuin spandeer het om godsdienstige vervolging vry te spring, net om uiteindelik deur dieselfde mense wat hulle sou help, verraai te word. Nou, nadat hulle jarelank in ’n vlugtelingkamp deurgebring het, wonder hulle of hulle ooit weer ’n woonplek en heenkome sal vind.
In albei gevalle het die onregverdigheid tot groot verontregting gelei. Maar hierdie onregverdigheid sal nie vir altyd duur nie.
Psalm 67 vra dat ons as gelowiges ons God met ’n stukkende wêreld sal deel. Dit sal sekerlik, as reaksie op God se liefde en regverdigheid, tot groot vreugde lei. Die psalmdigter sê: “Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer” (vs. 5).
Alhoewel bybelskrywers verstaan het dat regverdigheid die sleutel tot God se liefde is, het hulle ook besef dat die mensdom eers iewers in die toekoms tot die volle waardering daarvan sou kom. Tot dan moet ons vir hierdie onregverdige wêreld van diens wees deur ander op God se regverdigheid te wys. Met Sy wederkoms sal die “reg en geregtigheid te voorskyn kom, [dit sal] aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom” (Amos 5:24).