Toe ek hom die eerste keer sien, het ek gehuil. Hy het soos ’n volmaakte babatjie slapende in sy bedjie gelyk. Maar ons het geweet dat hy nooit sou wakker word nie. Nie totdat hy in die arms van Jesus was nie.
Hy het vir etlike maande aan die lewe vasgeklou. Toe vertel sy moeder ons in ’n hartverskeurende E-pos van sy dood en van die diepe pyn wat sy deurgemaak het. Vir haar was dit egter opvallend hoe God Sy liefdeswerk deur middel van daardie sterk klein seuntjie in hulle harte gevestig het.
Maar sterk? Hoe kan sy dit sê?
Die familie se kosbare klein seuntjie het vir hulle – en so ook vir ons – gewys dat ons vir alles op God moet vertrou, veral as dinge begin skeef loop! Die harde maar gerusstellende waarheid is dat God ons in ons pyn en leed ontmoet. Hy ken immers die smart om ’n geliefde seun te verloor.
In ons diepste seer blaai ons gewoonlik na Dawid se Psalms, omdat ons weet dat hy baie keer uit sy eie droefheid geskryf het. “Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?” (Ps. 13:3). “Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie” (vs. 4). Dawid kon sy grootste vrae aan God voorhou. “Ek hou vas aan U troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.” (vs. 6).
Slegs God kan werklik betekenis aan tragiese gebeure in ons lewens gee.