Voordat ek en my man ons lewens aan Christus gewy het, het ons dit oorweeg om te skei. Ons wou God egter liefhê en gehoorsaam, en het ons weer aan mekaar toegewy. Ons het wyse raad gesoek en die Heilige Gees gevra om ons te verander, individueel sowel as ’n egpaar. Ons hemelse Vader leer ons steeds gesonde kommunikasievaardighede, hoe om Hom lief te hê en te vertrou, asook mekaar – ongeag wat gebeur.

Al vier ons binnekort ons silwerbruilof, vergeet ek soms wat God tydens en deur ons beproewinge gedoen het. Pleks van rekening te hou met God se getrouheid in die verlede, worstel ek soms met ’n diepliggende vrees vir die onbekende, wat onnodige angstigheid wek.

In Deuteronomium 1 bevestig Moses die Here se getrouheid. Hy moedig die Israeliete aan om in geloof vorentoe te gaan sodat hulle hul erfdeel kan geniet. Die volk eis egter ’n uiteensetting van wat voorlê en wat hulle sou baat indien hulle Hom met hul toekoms vertrou (vv. 21-33).

Christus se volgelinge is nie immuun teen vrees en angs nie. Dit weerhou ons daarvan om Hom te vertrou en kan ook ons verhouding met Hom en ander skade berokken. Die Gees help ons egter om rekening te hou met God se getrouheid in die verlede. Hy vul ons met die krag van dapper vertroue in God se geloofwaardigheid – gister, vandag en vir ewig.