Buite my kantoorvenster kerjakker die eekhorings in hul resies teen die winter om hul akkers in ’n veilige en toeganklike plek te bêre. Hul geskarrel laat my glimlag. ’n Hele kudde herte kan deur ons agterplaas trek sonder om ’n geluid te maak, terwyl een eekhorinkie soos ’n inval kan klink.

Die twee diere verskil ook in ’n verdere opsig. Herte tref nie voorsorg vir die winter nie. Wanneer die sneeu val, eet hulle wat daar te vinde is – selfs die ornamentele struike in ons tuin. Sou eekhorings só probeer oorleef, sal hulle van die honger vergaan. Hulle sal nie geskikte kos kan kry nie.

’n Hert en ’n eekhoring verteenwoordig die maniere waarop God vir ons sorg. Hy stel ons in staat om te werk en vir die toekoms weg te sit. Hy voorsien ook in ons behoeftes wanneer ons bronne skaars raak.  Die Spreukedigter leer ons dat God oorvloedige seisoene skenk sodat ons voorbereid is op seisoene van skaarste (Spr. 12:11). Dawid sê ook in Psalm 23 dat die Here ons deur donker dieptes na groen weivelde lei.

God sorg ook vir ons deur diegene met oorvloed aan te spoor om dit met die behoeftiges te deel (Deut. 24:19). Wat voorsiening betref, verkondig die Bybel hierdie boodskap: Werk terwyl jy kan, spaar wat jy kan, deel wat jy kan, en vertrou God om in jou behoeftes te voorsien.