Ek en my dogter het beplan om ’n familiesaamtrek by te woon. Aangesien sy teen die reis opgesien het, het ek aangebied om te bestuur. “Goed, maar ek voel veiliger is my motor. Sal u dit bestuur?” het sy gevra. Ek het aangeneem sy verkies haar ruimer motor en vra haar toe: “Is my motor te beknop?” “Nee, dis net dat my motor my veilige plek is. Om die een of ander rede voel ek veilig daarin.”

Haar opmerking het my uitgedaag om oor my persoonlike “veilige plek” na te dink. Ek het aan Spreuke 18:10 gedink: “Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling.” Gedurende die Ou-Testamentiese tye het die mure en wagtoring van ’n stad as waarskuwing gedien vir die gevaar van buite, maar ook as beskerming vir die inwoners daarbinne. Die skrywer beklemtoon dat God se Naam, wat uitdrukking is van Sy karakter, Persoon en alles wat Hy ís, ware beskerming bied vir Sy eiendom.

Daar is wel plekke wat die verlangde veiligheid belowe wanneer gevaar dreig, soos ’n stewige dak oor ons kop wanneer ’n storm woed; ’n hospitaal wat mediese versorging bied, en die omhelsing van ’n geliefde.

Hoe lyk jou veilige plek? Waar is dit? In watter opsig ons ook al veiligheid verlang, is dit God se teenwoordigheid in daardie plek wat die krag en die beskerming bied wat ons regtig nodig het.