Dis broeityd vir die “groot bruines” in die Owyhee-rivier. Die bruin forelle se nesmaakritueel wat in die herfs plaasvind, het begin. ’n Mens kan sien hoe hulle hul neste in die gruiserige vlakwater uitgrawe.
Wyse vistermanne weet dat die vis broei en probeer om hulle nie te steur nie. Hulle vermy die gruisbanke waar hulle dalk op die foreleiers kan trap en loop ook nie stroomop in die water, weg van die neste, waar hulle steengruis kan loswikkel en die eiers kan versmoor nie. Hulle vang ook nie hierdie forelle nie, hoewel die versoeking groot is, want die vis rus naby hul neste.
Hierdie voorsorgmaatreëls is deel van ’n etiek wat verantwoordelike visvangs bepaal. Daar is egter ’n dieperliggende en beter rede.
Die Bybel beklemtoon die feit die God die aarde aan ons gegee het (Gen. 1:28-30). Dit is ons s’n om te benut, tog moet ons dit doen as mense wat dit liefhet.
My gedagtes is vasgenael op God se handewerk: ’n patrys wat anderkant die canyon roep; ’n elandbul wat ’n geveg aan die gang blaas, ’n trop wildsbokke in die verte, ’n spruitforel met kaleidoskopiese roosmoesies, ’n ma-otter wat in ’n stroom met haar kleintjies baljaar – ek is versot op al hierdie dinge. My Vader het op grond van Sy groot liefde hierdie dinge aan my gegee om te geniet. En ek bewaar alles wat ek liefhet.