Op haar eerste dag in die kleuterskool is Charlotte gevra om ’n prent van haarself te teken. Haar kunswerk was ’n eenvoudige bol vir die liggaam, ’n langwerpige kop en twee sirkels vir die oë. Op haar laaste dag daar moes Charlotte weer ’n selfportret skets. Dié keer het sy ’n dogtertjie in ’n bont rok, ’n glimlaggende gesig met duidelike gelaatstrekke en golwende rooi krulle geteken. Dié eenvoudige opdrag het aangetoon dat die verloop van tyd tog ’n invloed op die vlak van rypheid maak.
Hoewel ons aanvaar dat kinders met verloop van tyd volwasse raak, raak ons ongeduldig met onsself of medegelowiges oor ons tydsame geestelike groei. Ons juig wanneer ons die “vrug van die Gees” (Gal. 5:22-23) sien, maar raak mismoedig wanneer ons ’n sondige keuse opmerk. Dit is presies hieroor wat die skrywer van Hebreërs aan die kerk geskryf het: “Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in ... die woord van God moet onderrig” (5:12).
Laat ons, terwyl ons intimiteit met Jesus najaag, vir mekaar bid en geduldig stap langs dié wat die Here liefhet maar worstel om geestelik te groei. Laat “ons in liefde by die waarheid bly,” en mekaar bemoedig, sodat ons saam “in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof” (Ef. 4:15).