Terwyl ek die etiket aan ’n kledingstuk vir die winter verwyder, glimlag ek oor die bewoording op die agterkant: “WAARSKUWING: Hierdie innoverende produk sal maak dat jy in die buitelug wil bly.” As ’n persoon behoorlik geklee is vir die klimaat, kan jy die veranderende weerstoestande oorleef en selfs daarin floreer.

Dieselfde beginsel geld ons geestelike lewe. As volgelinge van Jesus is ons geestelike klerekas, wat teen alle weersomstandighede bestand is, deur die Here in Sy Woord voorgeskryf: “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees ... Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe” (Kol. 3:12-13).

Die klere wat God voorsien, soos vriendelikheid, nederigheid, en selfbeheersing, stel ons in staat om vyandigheid en kritiek met volharding, vergifnis en liefde tegemoet te gaan. Dit versterk ons tydens die storms van die lewe.

As ons moeilike omstandighede by die huis, skool of werk in die gesig staar, beskerm die “klere” wat God ons aansê om te dra ons. Boonop stel dit ons in staat om ’n positiewe verskil te maak: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (vs. 14).

Om volgens God se riglyne aan te trek verander nie die weer nie ... Die draer word toegerus.