Ek het grootgeword in Minnesota – ’n plek wat bekend is om sy talryke pragtige mere. Ek het dit geniet om uit te kamp en die wonders van God se skepping te geniet. Maar dit was nie juis my gunstelingervaring om in ’n dun tent te slaap nie – veral nie gedurende ’n reënerige nag wanneer ’n lekkende tent ’n deurweekte slaapsak tot gevolg gehad het nie.
Ek verwonder my aan een van die geloofshelde wat eenhonderd jaar lank in tente gewoon het! Toe hy 75 jaar oud was, het Abraham gehoor gegee aan God se oproep om sy land te verlaat sodat Hy hom ’n nuwe nasie kon maak (Gen. 12:1-2). Abraham was gehoorsaam en het God vertrou dat Hy Sy belofte sou nakom. Vir die res van sy lewe, totdat hy op die ouderdom van 175 jaar gesterf het (25:7), het hy in tente ver weg van sy eie land gewoon.
Ons het dalk nie dieselfde roeping as Abraham om as nomades te leef nie, maar selfs wanneer ons die wêreld en die mense wat daarin is, liefhet en dien, kan ons verlang na ’n dieper ervaring van ’n tuiste – om hier op aarde gewortel te wees. Ons kan, soos Abraham, met geloof uitsien na die toekomstige stad “waarvan God self die ontwerper en bouer is” (Heb. 11:10) wanneer die wind aan ons dun bedekking ruk en pluk of wanneer die reën dit deurweek. En, net soos Abraham, kan ons die verwagting hê dat God besig is om Sy skepping te hernuwe. Hy berei vir ons “’n beter vaderland, dit is die hemelse” (vs. 16).