Die wêreldbekende violis, Joshua Bell, het ’n ongewone manier om die Academy of St Martin in the Fields, ’n kamerorkes met vier-en-veertig lede, te lei. In plaas van om met ’n maatstok te dirigeer, dirigeer hy terwyl hy op sy Stradivarius saam die ander violiste speel. Joshua Bell het aan Colorado Public Radio vertel: “Selfs terwyl ek speel, gee ek allerlei aanwysings en tekens wat, volgens my, net hulle ​​op daardie punt sal verstaan. Hulle ken elke beweging van my viool of van my wenkbroue, of die manier waarop ek die strykstok trek. Hulle ken die klank waarna ek vir die hele orkes op soek is.”

Net soos die orkeslede hul oë op Joshua Bell hou, leer die Bybel ons om ons oë op Jesus ons Here te hou. Nadat die skrywer die name van die geloofshelde in Hebreërs 11 opgeteken het, noem hy: “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:1-2).

Jesus belowe: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20). Omdat Hy met ons is, het ons die wonderlike voorreg om ons oë op Hom gevestig te hou terwyl Hy die musiek van ons lewens dirigeer.