Terwyl ek uit die oop studeerkamervenster kyk, hoor ek voëls tjilp en ek sien en hoor hoe die wind liggies deur die bome waai. My buurman se nuutbewerkte land lê besaai met strooibale, en groot, wit cumuluswolke skitter in teenstelling met die helderheid van die blou lug.
Ek geniet ’n stukkie van die paradys – dit is nou afgesien van die byna onophoudelike gedruis van die verkeer hier naby ons eiendom en die effense rugpyn. Ek gebruik die woord paradys ligtelik, want hoewel ons wêreld eens volmaak was, is dit nie meer nie. Toe die mens gesondig het, is ons uit die tuin van Eden geskors en die aarde is “vervloek” (Genesis 3). Sedertdien het die aarde en alles wat daarin is in “verslawing aan die verganklikheid” verval. Lyding, siekte en ons dood is die gevolg van die mensdom se toetrede tot die sonde (Romeine 8:18-23).
Tog maak God alles nuut. Op ’n dag sal Sy woonplek by Sy volk in ’n nuwe skepping wees – “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” en “die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Op. 21:1-4). Tot op daardie dag kan ons die helder spatsels en soms die uitgestrekte, asemrowende natuurskoon wat ons rondom ons in hierdie wêreld sien, geniet. Dít is egter net ’n voorsmakie van die “paradys”.