“Sal ons slange teëkom?”

Allan het dié vraag gevra toe ons langs die rivier naby ons huis gestap het.

“Ons het nooit vantevore een teëgekom nie,” het ek geantwoord, “maar ons kan! Laat ons die Here vra om ons veilig te hou.” Ons het gebid en verder gestap.

’n Paar minute later het my vrou skielik agteruit getree om ’n giftige slang wat op die paadjie lê, te vermy. Ons het gewag dat die slang padgee ​​en God gedank dat niks gebeur het nie. Ek glo dat God ons deur Allan se vraag voorberei het vir dié onverwagse ontmoeting, en dat ons gebed deel was van Sy beskerming.

Dié onaangename ervaring het Dawid se woorde in herinnering geroep: “Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid” (1 Kron. 16:11). Dié raad was deel van ’n psalm ter viering van die terugkeer van die verbondsark na Jerusalem toe. Dit vertel van God se getrouheid aan Sy mense in hul stryd, en het hulle herinner om Hom altyd te loof.

Wat beteken dit om “[S]y teenwoordigheid [te soek]?” Dit beteken ons moet ons harte na Hom toe draai, selfs in die mees alledaagse oomblikke. Soms word ons gebede op ander maniere as dit waarvoor ons gevra het, beantwoord. Maar: God is getrou. Ons Goeie Herder sal ons paaie gelyk maak en ons in Sy genade, krag en liefde hou. Mag ons ons afhanklikheid van Hom verklaar.