Toe ek ses jaar oud was, het ek my vir die eerste keer saam met my broers op ’n tuimeltrein begewe. Toe ons die eerste draai teen ’n hoë spoed bereik, het ek benoud begin gil: “Stop die ding dadelik! Ek wil afklim!” Natuurlik het die tuimeltrein nie gestop nie, en met spierwit kneukels het ek tot aan die einde van die rit vasgeklou.

Soms gedra die lewe met al sy onverwagse duikslae en skerp draaie hom soos ’n ongevraagde tuimeltreinrit. Wanneer probleme ons onverhoeds betrap, herinner die Bybel ons daaraan dat ons ons toevlug tot God kan neem en op Hom vertrou. Dit was gedurende ’n onstuimige tyd toe ’n inval sy land bedreig het dat die profeet Jesaja hierdie kragtige gebed gebid het: “Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel” (Jesaja 26:3).

Die vrede wat ons Verlosser skenk wanneer ons na Hom toe draai, gaan “alle verstand te bowe” (Filippense 4:7). Ek sal nooit vergeet wat ’n dame wat borskanker gehad het, gesê het nie. Nadat ’n groepie van ons kerk een aand vir haar gebid het, het sy gesê: “Ek weet nie wat vir my voorlê nie, maar ek weet dat dit goed sal gaan, want die Here was vanaand hier saam met ons.”

Probleme is eie aan die lewe, maar ons Verlosser wat ons liewer het as die lewe self, is groter as enigeen van hulle.