My vriend Jaime werk vir ’n reuse internasionale bestuursorganisasie. Nog in sy beginjare daar het ’n man na sy lessenaar gekom en met hom begin gesels. Hy wou weet wat Jaime daar doen. Jaime het hom van sy werk vertel en die man se naam gevra. “My naam is Rich,” het hy geantwoord. “Aangename kennis,” het Jaime gesê. “En wat maak jý hier?”

“O, ek is die eienaar.”

Jaime het onmiddellik besef dat hierdie alledaagse, nederige gesprek sy bekendstelling aan een van die rykste manne ter wêreld was.

 Ons leef in ’n tyd van selfverheerliking en die viering van “ek” en “my”. Jaime se verhaal herinner ons aan Paulus se belangrike woorde in die brief aan die Fillipense: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (2:3). Mense wat aan ander aandag gee en nie op hulself fokus nie, besit die eienskappe waarvan Paulus praat.

Wanneer ons “ander hoër ag” as onsself, demonstreer ons Christelike nederigheid (v. 3). Ons weerspieël Jesus, wat “nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien” (Mark. 10:45). Dan neem ons “die gestalte van ’n slaaf aan” (Fil. 2:7) en het ons dieselfde gesindheid as Jesus (v. 5).

Laat ons, wanneer ons met ander te doen kry, “nie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (v. 4).