Toe ek jonger was, het ek ’n vriendin na ’n geskenkwinkel geneem. Ek was geskok toe sy ’n handvol goed in my sak stop en my by die deur uitstoot sonder om daarvoor te betaal. Die skuld het ’n week lank aan my geknaag voordat ek na my ma toe is – my skulderkenning en trane het ewe vinnig gevloei.
Vol berou oor my swak keuse om nie my vriendin teë te gaan nie, het ek die gesteelde goed teruggeneem, om verskoning gevra en belowe om nooit weer te steel nie. Die eienaar het my sy winkel vir goed belet. Maar omdat my ma my vergewe het en my verseker het dat ek my bes gedoen het om sake reg te stel, het ek daardie nag rustig geslaap.
Koning Dawid het ook ná sy skulderkenning rus gevind in vergifnis (Ps. 32:1). Hy het geswyg oor sy sonde jeens Batseba en Urija (2 Sam. 11-12) totdat sy “krag opgedroog” het (Ps. 32:3-4). Dawid het sy sonde bely en die Here het hom vergewe. Hy het Dawid teen aanvalle beskerm sodat hy weer oorwinningsliedere kon sing. Hy het gejubel omdat God dié wat op Hom vertrou, met Sy liefde omvou (vv. 5, 7, 10).
Ons het geen beheer oor die gevolge van ons sondes of mense se reaksie wanneer ons dit bely en om vergifnis vra nie. Die Here versterk ons egter om ons vryheid van die bande van die sonde en vrede ná skuldbelydenis te geniet wanneer Hy bevestig dat ons skuld weg is – vir altyd!