Die Iguazu-waterval, op die grens van Brasilië en Argentinië, is ’n skouspelagtige watervalstelsel van 275 watervalle in 2.7 km van die Iguazurivier. Geëts op ’n muur aan die Brasiliaanse kant van die waterval, is die woorde van Psalm 93:4: “Hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag.” Daaronder is dié woorde geskryf: “God is altyd groter as al ons probleme.”

Die skrywer van Psalm 93 wat hierdie woorde geskryf het tydens die tydperk wat konings regeer het, het geweet dat God die vernaamste Koning oor alles is. “Die Here is Koning” het hy gesê. “en vas staan u troon van ouds af: U is van altyd af daar” (Psalm 93:1-2). Ongeag hoe hoog die vloede of golwe is, die Here bly groter as hulle almal.

Die dreuning van ’n waterval is werklik majestueus, maar dit is ’n heel ander saak as jy in die water is en in die rigting van die waterval geslinger word. Dit kan die situasie wees waarin jy jou vandag bevind. Fisiese-, finansiële-, of verhoudingsprobleme blyk steeds groter te word en jy voel jy gaan oor die rand van die valle. In sulke gevalle het die Christen Iemand om na te draai. Hy is die Here wat “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20) want Hy is groter as al ons probleme.