Gebed is ’n gesprek met God, nie ’n formule nie. Tog voel dit soms asof ons ’n “metode” nodig het om nuwe lewe in ons gebede te blaas. Ons kan die Psalms of ander Skrifgedeeltes nabid, soos byvoorbeeld die “Ons Vader.” Ons kan ook die ACTS-metode (Adoration [Aanbidding], Confession [Skuldbelydenis], Thanksgiving [Danksegging] en Supplication [Smeking]) volg. Ek het onlangs van die vyfvingergebed gehoor. Jy kan dit gebruik wanneer jy vir ander bid.
Wanneer jy jou hande vou, is jou duim die naaste aan jou. Begin dus om te bid vir diegene die naaste aan jou – jou geliefdes (Fil. 1:3-5).
Langs die duim is die wysvinger. Bid vir dié wat onderrig gee: leraars, predikers, asook dié wat kinders onderrig (1 Tess. 5:25).
Die volgende vinger is die langste. Dit herinner jou om te bid vir dié wat regeer en gesag uitoefen – nasionale en plaaslike leiers, sowel as jou opsiener by die werk (1 Tim. 2:1-2).
Die vierde vinger is gewoonlik die swakste. Bid vir diegene wat in moeilike omstandighede verkeer of ly (Jak. 5:13-16).
Heel laaste aan die beurt is jou pinkie. Dit herinner jou aan jou kleinheid in vergelyking met God se grootheid. Vra Hom om in jou behoeftes te voorsien (Fil. 4:6, 19).
Dit maak nie saak watter metode jy volg nie, praat net met jou Vader. Hy wil graag hoor wat jy op jou hart het.