Die spel van die 11- en 12-jarige orkeslede in ons kleindogter se skoolkonsert het my beïndruk. As elkeen van hulle ’n solis wou wees, sou elkeen se individuele vertoning nie dieselfde lieflike musiek kon skep as die groep gesamentlik nie.

Paulus het aan Jesus se volgelinge in Rome geskryf: “Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het” (Rom. 12:5–6). Paulus noem onder meer gawes soos profesie, diens, onderrig gee, bemoediging, mededeelsaamheid, leierskap en hulp (vv. 7-8). Elke gawe behoort rojaal beoefen te word tot voordeel van almal (1 Kor. 12:7).

Gesamentlik kan omskryf word as “gekombineerde optrede; harmonie, of eensgesindheid.” Dít is God se plan vir ons wat deur die geloof in Jesus Christus Sy kinders is. “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld” (Rom. 12:10). Die doelwit is samewerking, nie wedywering nie.

In sekere sin is ons elke dag “op die verhoog” voor ’n wêreld wat kyk en luister. Daar is geen soliste in God se orkes nie, maar elke instrument is onontbeerlik. Die musiek klink die heel mooiste wanneer ons as individue ons deel in harmonie met ander lewer.