In sy jongdae het my pa saam met ’n groep vriende na ’n sportgeleentheid in ’n ander distrik gery. Weens die deurdringende reën was die pad baie glad. Die motor het gegly en ’n ernstige ongeluk tot gevolg gehad. Een van Pa se vriende is verlam en ’n ander het gesterf. My pa is dood verklaar en na die lykshuis geneem. Sy geskokte en bedroefde ouers het gekom om hom te identifiseer. My pa het egter uit ’n diep koma wakker geword en hul hartseer het in vreugde verander.
Die apostel Paulus herinner ons in Efesiërs 2 dat ons sonder Christus “dood” is as gevolg van ons “oortredings en sondes” (v. 1). “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak” (vv. 4-5). Ons is deur Christus uit die dood na die lewe gebring.
Ons almal is dus in sekere sin ons lewens verskuldig aan ons hemelse Vader. Deur Sy groot liefde het Hy dit moontlik gemaak dat ons wat eers dood was in ons sonde, lewe en betekenis geniet deur Sy Seun. “Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” (vv. 6-7).