Nadat ek ’n vriendin per e-pos aangevat het oor ’n saak waaroor ons verskil, het sy nie daarop gereageer nie. Het ek oortree? Ek wou nie die situasie vererger deur haar te pla nie, maar ek wou ook nie dinge onopgelos laat voordat sy oorsee vertrek nie. Oor die volgende paar dae het sy voortdurend in my gedagtes opgekom. Ek het vir haar gebid, maar was onseker oor die pad vorentoe. Toe ek een oggend in ’n nabygeleë park gaan stap, het ek haar gesien. Haar gesig het van pyn vertrek toe sy my sien. “Dankie, Here, dat ek met haar kan praat,” het ek onderlangs gebid en met ’n verwelkomende glimlag nader gestap. Ons het eerlik gesels en kon die saak skik.
Wanneer seerkry en stilte ons verhoudings skaad, lyk dit asof hulle nie geheel kan word nie. Maar Paulus roep ons, net soos vir die kerk in Efese, op om ons te beywer vir vrede en eenheid: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:2-3). Geklee in vriendelikheid, nederigheid en geduld, kan ons God vra om ons verhoudings te heel. Dit is die Here se begeerte dat daar eenheid onder ons sal wees. Hy kan Sy mense deur Sy Gees verenig – selfs wanneer ons in die park gaan stap!