’n Vriend en sy vrou, nou in hul negentigerjare en reeds 66 jaar lank getroud, het hul familiegeskiedenis vir hul kinders, kleinkinders en dié se nageslagte opgeteken. Die laaste hoofstuk: “’n Brief van Ma en Pa,” bevat hul eie kosbare lewenslesse. Een van hulle het my na my eie lewe laat kyk: “As jy vind dat Christenskap jou uitput, jou energie dreineer, dan pleeg jy godsdiens in plaas van om ’n verhouding met Jesus Christus te geniet. Om met die Here op pad te wees, maak jou nie moeg nie; dit verkwik jou, vernuwe jou krag en stimuleer jou lewe” (vgl. Matt. 11:28-29).

Eugene Peterson het Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-29 só omskryf: “Is jy moeg? Uitgeput? Uitgebrand weens godsdienstigheid? … Beweeg en werk saam met My … Leer die spontane ritmes van genade aan” (vertaal uit The Message).

As ons dink ons diens aan die Here hang net van ons af, het ons vir Hom begin werk in plaas van om saam met Hom te beweeg. Die verskil is: as ons nie saam met Christus beweeg nie, raak ons gees dor en bros. Mense raak irritasies en nie meer medemense wat na God se beeld geskep is nie.

Wanneer ons agterkom dat ons godsdienstigheid beoefen pleks van ’n verhouding met Jesus te geniet, het dit tyd geraak om die las neer te lê en saam met Hom in Sy “spontane ritmes van genade” te beweeg.