Dit was die derde jaar waartydens ek teen moedeloosheid en depressie geveg het weens beperkte beweging en chroniese pyn. Ek het vir ’n vriendin gesê: “My liggaam gee in. Dit voel asof ek niks meer van waarde vir God of my naaste kan bied nie.”
Sy het haar hand op myne gesit. “Sou jy sê dit maak nie ’n verskil as ek jou met ’n glimlag groet of na jou luister nie? Sou jy vir my sê dis nutteloos as ek vir jou bid of iets moois sê?”
Ek het teruggesit en geantwoord: “Natuurlik nie!”
Sy het gefrons. “Waarom vertel jy jouself dan al hierdie leuens? Jy doen al hierdie dinge vir my en vir ander.”
Ek het God gedank dat alles wat ons vir Hom doen, waarde het.
Paulus verseker ons in 1 Korintiërs 15 dat ons liggame tans swak is, maar dat dit “in krag opgewek” sal word (v. 43). Op grond van Sy belofte dat ons deur Christus opgewek gaan word, kan ons vertrou dat God elke offergawe, selfs die geringste inspanning in Sy diens, sal gebruik om ’n verskil in Sy koninkryk teweeg te bring (v. 58).
Selfs wanneer ons liggaamlik beperk is, kan ’n glimlag, ’n woord van bemoediging, ’n gebed of ’n blyk van geloof tydens ons beproewing gebruik word om die diverse en interafhanklike liggaam van Christus te bedien. Wanneer ons die Here dien, is geen werk of liefdestaak te gering nie. Elkeen maak saak.