Wanneer my man ons kerk se lofprysingspan op die harmonika begelei, maak hy soms sy oë toe.  Hy sê dit help hom om te fokus en alle ander dinge uit te sluit sodat hy sy beste kan lewer – net hy, sy harmonika en die musiek tot lof van God.

Daar is mense wat wonder of ons met toe oë moet bid. Aangesien ons te eniger tyd en op alle plekke kan bid, kan daar probleme opduik as ons altyd ons oë toemaak, veral wanneer ons stap, onkruid uittrek of bestuur!

Daar is ook geen reëls oor die liggaamshouding wat ons moet inneem tydens ons gesprek met God nie. Toe koning Salomo tydens die wyding van die tempel gebid het, het hy gekniel en sy hande na die hemel toe uitgestrek (2 Kron. 6:14). Die Bybel noem verskillende gebedsposisies, soos om te kniel (Ef. 3:14), te staan (Luk. 18:10-13) of met die gesig teen die grond (Matt. 26:39).

Ons kan voor God kniel of staan. Ons kan ons hande na die hemel uitsteek of ons oë toemaak sodat ons beter op Hom kan fokus. Dit is egter nie ons liggaamshouding wat tel nie, maar dié van ons hart. Wat in ons hart omgaan, bepaal ons hele lewe (Spr. 4:23). Mag ons hart tydens gebed altyd in aanbidding, dankbaarheid en nederigheid voor ons liefdevolle God buig, omdat ons weet dat Hy luister, ons onder Sy sorg hou en elke gebed verhoor (2 Kron. 6:39-40).