Sang lei tot veranderinge in die brein. Wanneer ons sing – só dui party studies aan – skei ons liggame hormone af wat angs en spanning verlig. ’n Ander studie het bevind dat die hartklop van ’n groep mense wat saamsing, as ’t ware sinchroniseer.

Die apostel Paulus moedig die kerk aan om psalms, lofgesange en ander geestelike liedere onder mekaar te sing (Ef. 5:19). Die Bybel herhaal meer as 50 keer: “Sing lofgesange!”

Op ’n keer het God se volk hul vertroue op Hom prakties gedemonstreer deur singende oorlog toe te gaan. Die vyand was in aantog. ’n Bang koning Josafat het die hele Juda byeengeroep en vurig voor die gemeente gebid. Hulle het nie geëet of gedrink nie, net gebid. “… Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig” (2 Kron. 20:12). Die volgende môre het hulle die vyand tegemoetgetrek. Die koor het vooruit geloop, nie die geharde vegters nie. God het belowe: “Julle hoef nie te veg nie … kyk na die oorwinning van die Here vir julle” (v. 17).

Terwyl hulle jubelend na die slagveld stap, begin hul vyande onder mekaar baklei. Daar aangekom, was die geveg verby. God se mense het die onbekende met lofgesange en geloof betree, en Hy het hulle gered.

God moedig ons met goeie rede aan om Hom te loof. Lofprysing het die krag om ons denke, ons harte en ons lewens te verander.