Wanneer ek na my hande kyk, word ek daaraan herinner dat ek my trou- en verloofringe verloor het. Ek was met te veel dinge besig toe ek vir ’n reis gepak het en ek het steeds geen idee wat ek met die ringe gedoen het nie.

Ek was bang om my man van my onbesonnenheid te vertel. Ek het nie geweet hoe hy die nuus sou hanteer nie. Sy teerheid en sorg teenoor my was egter groter as sy kommer oor die ringe. Tog wil ek steeds soms iets doen om sy guns te verdien. Hy, aan die ander kant, neem my nie kwalik oor wat gebeur het nie.

Wanneer ons aan ons sonde dink, voel ons so dikwels ons moet iets doen om God se vergifnis te verdien. Maar Hy het gesê dat ons inderdaad uit genade gered is, “nie deur julle eie verdienste nie” (Ef. 2:8-9). Toe Hy van die nuwe verbond gepraat het, het Hy aan Israel belowe: “… Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie” (Jer. 31:34). Ons het ’n God wat vergewe en nie meer aan al ons onbesonne oortredings en ongehoorsaamheid dink nie.

Ons voel dalk nog skuldig oor ons verlede, maar ons behoort op Sy belofte te reken en te glo dat Sy genade en vergifnis ’n werklikheid is deur ons geloof in Jesus Christus – wat ook ’n gawe uit ons Vader se hand is. Dié nuus stem ons tot dankbaarheid en die sekerheid wat slegs geloof meebring.