Filosowe spekuleer: “Wat is die goeie lewe en wie besit dit?” Ek dink dadelik aan my goeie vriend Roy. Roy was ’n stille, nederige man wat nooit eer of erkenning gesoek het nie. Hy het alles in sy lewe aan die goeie Vader oorgelaat en hy het al sy tyd daaraan bestee om die wil van die Vader te doen. Hy het ’n hemelse perspektief gehad. Hy het dikwels aan my gesê: “Ons is maar reisigers hier op aarde,” Roy is verlede jaar oorlede. By sy gedenkdiens het vriende nagedink oor die invloed wat hy op hulle lewens gehad het. Baie het gemeld van sy vriendelikheid, nederigheid, onselfsugtige gawes en sy deernis en begrip. Hy was vir baie mense die sigbare openbaring van God se onvoorwaardelike liefde. Na sy begrafnis het Roy se seun na die tehuis gery waar sy pa sy laaste dae deurgebring het. Hy het sy pa se goedjies bymekaargemaak: twee paar skoene, ’n paar hemde en langbroeke, ’n paar ditjies en datjies – die somtotaal van al Roy se besittings en dit na ’n nabye ouetehuis geneem. Roy het nooit ’n sogenaamde goeie lewe gehad nie, maar hy was ryk ten opsigte van God en hy het baie goeie dade gedoen. George McDonald het geskryf: “Wie is die eienaar van hemel en aarde: hy wat duisend huise besit, of hy wat geen huis het wat hy sy eie kan noem nie, maar oral verwelkom word wanneer hy by hulle aanklop?” Roy het beslis die “goeie lewe” gehad.