As gevolg van mistigheid kon Angie nie goed deur die vensters van haar motor sien nie en toe het sy in ’n vragmotor vasgery. Die ongeluk het haar brein so ernstig beskadig dat sy nie langer kon praat of na haarself omsien nie. Deur die jare is ek diep geraak deur haar ouers se optrede en hoe hulle haar versorg. Onlangs het ek gevra: “Hoe het julle dit reggekry om hierdie situasie te hanteer?” Haar pa het ’n oomblik nagedink en toe gesê: “Om eerlik te wees, die enigste manier waarop ons deur hierdie beproewing kon kom, is om elke dag naby aan die Here te bly. Hy gee ons die nodige krag en help ons om te volhard.” Angie se ma het saamgestem, maar gesê dat hulle net na die ongeluk soveel hartseer en pyn beleef het, dat hulle gewonder het of hulle ooit weer bly sou kon wees en vreugde ondervind. Maar soos hulle op die Here gesteun het, het hulle telkemale sy voorsiening en geestelik hulp beleef, nie net vir hulle nie, maar vir die hele gesin. Alhoewel Angie nooit weer sal kan praat nie, reageer sy op hulle liefde en glimlag vir hulle, wat hulle baie vreugde besorg. Haar ouers se geliefkoosde teksvers bly steeds: “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” (Psalm 30:6). Het jy al ooit soortgelyke hartseer en pyn beleef? Daar is ’n belofte van toekomstige vreugde te midde van jou trane as jy net op die Here vertrou.