In gholf is die O. B. merkers die aanduiding dat ’n gholfbal buite die speelveld beland het en indien ’n gholfbal daar beland, word een hou by die telling gevoeg. Jeremia het die suidelike koninkryk van Juda gewaarsku omdat hulle nie op God se grense ag gegee het nie. Hy sê dat selfs die magtige oseaan grense het waaroor dit nie mag gaan nie. God sê: “Is julle nie bang vir My nie, vir My wat die sand as grens vir die see gestel het” (Jer. 5:22). Tog het die volk van God harde en onberouvolle harte gehad (vs. 23). Hulle het die Here nie gevrees, Hy “wat ons die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd” (vs. 24). Hulle was vol bedrog (vs.27) en “behartig nie die regsaak van die armes nie” (vs.28). Die Here het vir sy kinders grense gestel wat Hy in sy Woord uiteensit en Hy verwag van ons om binne daardie grense te lewe. Hy het nie daardie grenslyne gegee om ons te frustreer nie, maar sodat ons ware vreugde en seën kan geniet. Dawid skryf: “Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is” (Ps. 119:75). En God het deur Moses met Israel gepraat: “Ek [het] die lewe en die dood aan jou voorgehou … kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe” (Deut. 30:19). Moenie God se grense op die proef stel nie. Dan sal jy teregwysing ontvang. Nee, hou jou binne God se O. B. merktekens, soos in die Bybel aan ons gegee.