Terwyl ons deur die eerste deel van hierdie nuwe eeu deurjaag, sien ons al meer hoedat gevestigde standaarde en beginsels bevraagteken word. Dit was onlangs baie duidelik in die optrede van ’n jong popster, ’n tiener wat bely dat sy ’n Christen is. Terwyl daar oor kleredrag gepraat is, en hoe moderne jongmense aantrek, het sy ewe selfversekerd verklaar: “Ag, daardie houding is uit die ou tyd. Vandag is dit anders.” Hierdie jong dame was reg, maar ook verkeerd in dit wat sy gesê het. Die kleredrag vir Christene is vandag “outyds”. Dis kleredrag wat duisende jare gelede bepaal is. Maar haar bewering dat standaarde van die ou tyd maar net doodeenvoudig opsy gesit kan word, is verkeerd. Die beginsels en voorskrifte in die Bybel is nooit outyds nie, hulle is tydloos. Alhoewel hulle duisende jare gelede neergeskryf is, is hulle vandag nog geldig. As die Bybel sê vroue moet “waardig en beskeie” aantrek (1 Timoteus 2:9) dan geld daardie opdrag vandag nog. Vroue moenie probeer om aandag op hulleself te vestig nie. Daar is ’n nog meer algemene opdrag in Romeine 12:2: ”Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” Dis ook vandag nog, in 2013, ’n opdrag wat vir vroue geldig is. Of jy dus ’n popster is, of maar net ’n doodgewone persoon, moenie bang wees om as “outyds” gesien te word nie. Wat belangrik is, is om te doen wat die Boek sê.