Ray Stedman, ’n pastoor, het my vertel van ’n jong man wat opgehou het om die dienste in sy kerk by te woon. Die jong man het verduidelik dat hy soms by die werk sy humeur verloor en sy medewerkers sleg behandel. Dan, wanneer Sondag aanbreek, gaan hy kerk toe en sit ewe vroom daar, maar voel soos ’n skynheilige. Stedman het toe aan sy jong vriend verduidelik. “’n Skynheilige is iemand wat optree soos iets of iemand wat hy nie is nie. Wanneer jy kerk toe kom, tree jy op as Christen. Jy is nie ’n skynheilige in die kerk nie.” Meteens het die jongman besef waar hy ’n skynheilige is en dat die antwoord nie is om die kerk te vermy nie, maar om sy optrede by die werk te verander en sy humeur te beteuel. Die term hypocrite wat met skynheilige vertaal word, is ’n Griekse woord wat eintlik “toneelspeler” beteken. Somtyds doen ons onsself voor as iets of iemand wat ons nie regtig is nie. Somtyds vergeet ons ons ware identiteit in Jesus Christus. Ons vergeet dat ons eendag verantwoording aan God sal moet doen. Wanneer ons so lewe en dus lewe soos “hierdie sondige wêreld” (Efesiërs 2:2), dan het ons skynheiliges geword. Laat ons tog nie toelaat dat ons ou lewe ons laat optree soos iemand wat ons nie regtig is nie. In plaas daarvan, kom ons lewe so dat ons optrede wys dat ons “saam met Christus lewend gemaak” is (Efesiërs 2:5). Dis ’n betroubare geneesmiddel vir skynheiligheid.