Nadat Ffyona Campbell beroemd geword het as die eerste vrou wat om die wêreld gestap het, was haar vreugde van korte duur. Ten spyte van al die eer wat sy ontvang het, het iets haar gepla. Skuldgevoelens het haar teneergedruk en sy was op die punt om ’n ineenstorting te beleef. Wat het haar so gepla? Eindelik het sy bely: “Ek behoort nie die erkenning te ontvang nie want ek was oneerlik.” Gedurende haar wêreldwye staptoer het sy die riglyne van die Guinness Book of World Records oortree, omdat sy ’n ent op ’n vragmotor gery het. Om haar gewete te stil, het sy haar borg geskakel en haar oneerlikheid bely. Die Here het aan ons ’n gewete gegee, wat ons aankla as ons iets verkeerd gedoen het (Romeine 2:15). “[Ons] gewetens getuig daarvan wanneer [ons] deur [ons] gedagtes aangekla … word.” Vir volgelinge van Christus speel die gewete ’n belangrike rol. Dis ’n morele kompas ten spyte van ons geneigdheid om te sondig en help ons om ons tekortkominge te bely. Om dit te doen, weg te draai van sonde, en ’n besluit te neem om sonde te vermy, behoort die lewenswyse van ’n Christen te wees (1 Joh.1:9, Lev. 6:2-5). Paulus het moeite gedoen om sy gewete skoon te hou. Hy sê: “Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ’n skoon gewete voor God en die mense te hê” (Hand. 24:16). Deur belydenis van sy oortredinge het hy naby God gebly. Wat van jou? Is daar sonde wat jou pla? Volg Paulus se voorbeeld en behou ’n skoon gewete.